23 Mei 2006
Die Kantoor van die Staatspresident
Republiek van Suid Afrika
Vir Aandag Mnr. Thabo Mbeki
Geagte President
MISDAAD IN SUID AFRIKA
Vrydag 27 April was Vryheidsdag.
Op die dag het u self, die ANC en ander lede van die regering die dag gevier as die dag waarop ‘n nuwe demokrasie in Suid Afrika gevestig is.
Volgens televisie uitsending is die dag met groot vreugde gevier.
U het die inwoners van Kimberly toegespreek.
Op dieselfde dag was daar miljoene ander Suid Afrikaners by hulle huise in rou.
Hulle was in rou omdat hulle hul vryheid verloor het.
Hulle vryheid om te kom en te gaan soos hulle wil.
Hulle kan nie hul huise verlaat nie want dan word dit leeg gesteel.
Hulle kan nie op die paaie beweeg nie, winkels en vriende besoek nie, want hulle word aangeval, beroof en vermoor
Hulle moet hul huise soos tronke versterk met tralies.
Hulle sit vasgekeer soos kriminele in hul huise.
Hulle word in hul huise aangeval en doodgeskiet.
In baie gevalle word hulle gemartel.
Dit is die lot van die meerderheid inwoners van Suid Afrika.
Ek is nie gemagtig om namens die inwoners van Suid Afrika te praat nie.
Ek skryf in opdrag van die Landbougemeenskap van die Cullinan distrik.
Die Grondwet van die Republiek van Suid Afrika waarborg ons die volgende regte:
Everyone has the right to freedom and security of the person, which includes the right to be free from all forms of violence from either public or private sources and not to be treated or punished in a cruel, inhuman or degrading way.
Everyone has the right to life
Die afgelope jare is hierdie regte ons ontneem deur toenemende misdaad in ons gebied.
Die SAPD wat verantwoordelik is vir die toepassing van reg het ons nie beskerm nie.
Die Staat het nie sy verantwoordelikheid nagekom nie.
U Mnr. die President spreek u ook nie uit oor die toename in moorde en aanvalle op die boere van Suid Afrika nie.
Die boere wat onder uiterste omstandighede steeds die inwoners van die Suid Afrika van kos voorsien.
In u toespraak op Kimberly het u gepraat van die mag van die reg wat gebruik sal word om Raadslede wat die Munisipale Rade sien as ‘n melkkoei, te vervolg.
Ons weet nie waarvan u praat as u praat van die mag van die Reg nie.
Ons ervaar ‘n onbevoegde, onbeholpe, onopgeleide polisiemag wat tot datum nie ons regte, soos verseker volgens die Grondwet van Republiek van Suid Afrika kon beskerm of verseker nie.
Ons gee ook erkenning aan ‘n paar SAPD lede wat nog erns het met hulle werk, en onder uiterste omstandighede nog steeds probeer ‘n diens lewer.
Ons het ons limiet bereik.
Na vlae van misdaad waar ons landbougemeenskap aangeval, beroof en vermoor is, eis ons nou vergoeding van die Regering.
Ons eis vergoeding vir die skade en verliese wat gelei word deur die slagoffer van misdaad, as gevolg van die Staat se onvermoë om die misdaad te beheer en te stop.
Eis 1
Die eis, is vir verliese en skade gely as gevolg van die aanval op Mnre. Pretorius, van Zijl en Mev. Viljoen.
Hulle was sonder rede aangeval toe hulle langs die R 573 gestap het op Sondag 2 April 2006.
Die Staat het nie hulle regte beskerm nie.
Voorlopige koste soos per aangehegte uiteensetting R 78155.88
Neem kennis dat daar nie ge-eis word vir die trauma waardeur die persone moes gaan nie.
Geen waarde kan ook geplaas word op die trauma van die gemeenskap nie.
Eis 2
Op Vrydag 21 April 2006 is die Cronje gesin in hulle huis aangeval en Mnr. Cronje die broodwinner is geskiet.
Hy het later aan sy wonde beswyk.
Hy is op Woensdag 3 Mei begrawe.
Die Staat het nie hulle regte beskerm nie.
Die totale waarde van die verliese is nog nie bekend nie. en sal aan u oorhandig word wanneer dit bekend is.
Ons eis egter dat die gesin versorg word deur die Staat en dat hulle vergoed word op ‘n maandelikse basis vir die verlies aan inkomste omdat die broodwinner vermoor is.
Ons verwag dat hulle dieselfde lewenstyl sal handhaaf as voor die aanval.
Maandelikse koste ter vervanging van inkomste R 15000-00 per maand
Neem kennis dat daar nie ge-eis word vir die trauma waardeur die gesin moet gaan nie, aangesien dit onberekenbaar is.
Daar word ook nie ge-eis vir die verlies van ‘n kind, vader en eggenoot nie, aangesien dit onberekenbaar is.
Eis 3
Diefstal van ‘n 1980 Toyota Hilux 1600 bakkie met gereedskap en radios R 16 970-00
Mnr. G Lourens van Doornkraal Distrik Cullinan was die eienaar van die voertuig. Die voertuig is op sy plaas gesteel.
Ook hier het die staat versuim om Mnr. Lourens se reg te beskerm
U kan direk met ons kantoor kontak maak, aangesien die organisasie optree as skakel vir al die persone.
Eis 4
Diefstal van gereedskap en toerusting R 105 455-45
Die gereedskap en toerusting is van Mnr. H Chapman plaas op Boekenhoutskloof Cullinan
Gesteel.
Hierdie is die eerste eise teen die Staat vir onbevoegdheid om ons Grondwetlike regte te beskerm.
Soos wat ons regte geskend word, so sal ons eis van die Staat.
Ons behou ons ook die reg voor om te eis vir pyn en lyding.
U moet ook kennis neem dat ‘n nuwe “struggle” begin het.
‘n Struggle vir vryheid en reg.
‘n Struggle vir ‘n Suid Afrika waar inwoners se regte beskerm word.
‘n Struggle vir ‘n Suid Afrika wat vry is van misdaad.
‘n Suid Afrika waar die regering erns het met die regte van sy inwoners.
‘n Suid Afrika waar misdadigers agter tralies sit en inwoners vry kan rondbeweeg.
Dit is ook aanvaarde praktyk in die besigheidswêreld dat daar vir ‘n diens betaal word, slegs nadat die diens suksesvol gelewer is.
Die Staat moet ‘n diens lewer deur ons regte te beskerm.
Sou die diens nie gelewer word nie, het ons dan seker ook die reg om belasting te weerhou omdat die diens nog nie gelewer is nie.
Dit mag ook wees dat die Staat nie die diens wil lewer of kan lewer nie.
Ons het oor ‘n reg tot protes ingevolge die Grondwet,
Protes in die geval beteken dan ook weerhouding van belasting tot ons regte beskerm soos uiteengesit in die Grondwet.
Indien u ons regte as inwoners van Suid Afrika erken sal u toesien dat die eisers vergoed word.
Ons hoor graag van u.
Die Uwe
LC Meintjes
(Voorsitter)
Cullinan Distrik Boere-Unie
Sel 082 461 7262
Faks 086 610 8518